Anibrandfees op hande

BY KAREN PIENAAR - FEBRUARY 25, 2015

Die gewilde Anibrandfees skop af op Donderdag 26 Februarie en duur voort tot Saterdag 28 Februarie. Meer as ’n dosyn nuwe kunstenaars maak vanjaar die eerste keer hul buiging by Anibrand.

Donderdag vanaf 18:00 vermaak die skreeusnaakse Radio Raps volwassenes met "Jonathan in Life 101". Die optrede is in ’n massiewe tent op die hoofrugbyveld en is slegs vir volwassenes.

Vrydag behoort die verhoog aan Dozi, ADAM, Sorina, Joe Foster, Dewald Wasserfall en Elvis se Seun. Saterdag kan feesgangers uitsien na Robbie Wessels, MONARK, Riana Nel, Andries Vermeulen, Andriette Norman, Corlea en Charlize Bergh.

Gedurende die dag kan feesgangers inkopies by die stalletjies doen. Popsi en Hobie is gedurende die dag beskikbaar om klein kindertjies te vermaak vir vreedsame inkopies.

Vir wanneer feesgangers honger word, is kosstalletjies te kies en te keur beskikbaar. Tieners kan bedags uitsien na die pretpark en saans na sokkies in die skoolsaal. Elke sokkie het ’n tema en professionele klank.

Toegang vir die kunsuitstalling by die Barkleystraat Teater is gratis. Ligte etes, ’n kontantkroeg asook koffie en koek is beskikbaar.

Naweekpakkette wat Vrydag en Saterdag insluit, is slegs tot Donderdag 26 Februarie beskikbaar teen R180 vir volwassenes en R80 vir kinders. Dagkaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir kinders.

Kaartjies is beskikbaar vanaf Hoërskool Brandwag en Daniels Service Station op Uitenhage, vanaf Total op Despatch en Westway Kafee in Port Elizabeth.

Besoek www.anibrandfees.co.za vir meer inligting oor onder meer verblyf, kampeerplek en meer besonderhede oor die feesprogram.

 

CAPTION: Brandwagters (van links) Ferdinand Burger, Gerhard van Tonder, Kevin Higgs, Chandré Swanepoel en Kylie Janse van Rensburg wys die terrein van Hoërskool Brandwag waarheen duisende hierdie naweek sal stroom vir die Anibrandfees. IMAGE SUPPLIED